Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Laer slaagpunte maak bespotting van SA onderwys

July 4, 2017 deur Alet Rademeyer

Die departement van basiese onderwys se planne om die slaagsyfer in verskeie vakke vir leerlinge in die laaste seniorfase te verlaag, sal ’n verdere bespotting van Suid-Afrika se openbare onderwysstelsel maak.

Die departement oorweeg dit glo om leerlinge in gr. 10 en gr. 11 voortaan deur te sit al slaag hulle nie wiskunde/wiskundige geletterdheid wat tans ’n verpligte vak is nie. Daar word ook gekyk om die slaagsyfer in huistaal wat tans 50% is na 40% te verlaag. Nog ’n vergunning is dat hulle slegs 30% in twee ander vakke behalwe wiskunde moet behaal om te slaag.

Onderwyskundiges met wie Forum Nuus gepraat het meen om leerlinge wat nie in gr. 10 en gr. 11 vakke slaag nie net deur te sit, gaan op die langtermyn tot chaos lei. Die kans dat dié leerlinge matriek, oftewel gr. 12, daarna die eerste keer sal deurkom, is bitter skraal. Boonop is openbare skole glad nie gerat om duisende leerlinge wat matriek wil herhaal te akkommodeer nie. “Die gevolg is dat die arbeidsmark met druipelinge oorstroom sal word.”

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, is ook bekommerd oor die voorgestelde planne en meen die verlaging van slaagpunte gaan die bestaande persepsie dat Suid-Afrika swak gehalte onderwys bied net verder versterk. “Suid-Afrikaners het reeds nie baie vertroue in die openbare onderwysstelsel nie en om leerlinge bloot op laer punte deur te sit, gaan die persepsie versterk en boonop tot die werkloosheidskrisis bydra.”

Sy meen die land gaan uiteindelik met net nog meer jongmense sit wat geen kans op verdere studie of werksgeleenthede het nie omdat werkgewers nie mense in diens wil neem wat nie oor die mees basiese vaardige beskik nie.

Nog ’n kenner meen die departement moet na ander oplossings vir dié krisis kyk eerder as om slaagsyfers te verlaag.

“Dalk moet daar weer gekyk word om wiskunde eerder ’n keusevak te maak of dit soos in die verlede op standaard- en hoërgraadvlak aan te bied. Die werklikheid is dat almal nie oor ’n syferaanleg beskik nie en mens het begrip vir hoofde en onderwysers wat uitwys dat baie leerlinge nie dié vakke op ’n bepaalde vlak kan deurkom nie.”

Wat die krisis rondom taal betref, moet die departement ook op ander vlakke na die probleem kyk. Die dilemma is dat derduisende leerlinge Engels as huistaal neem terwyl dit nie hul moedertaal is nie. Boonop word hulle onderrig deur onderwysers wie se huistaal ook nie Engels is nie.

Volgens die kenners lê ’n gedeelte van die oplossing in beter opleiding van onderwysers en die verbetering van hul eie taal- en vakkennis. Dit het ook tyd geword dat mense wat onderwys wil gee beter gekeur word sodat hoogs opgeleide mense met die nodige kennis vir die opleiding van ’n volgende geslag verantwoordelik is. In lande soos Finland word onderwysers as’t ware met die hand uitgesoek en kan nie sommer enigiemand dié beroep volg nie.

Nog ’n voorstel is dat skole in plaas van wiskunde eerder op vakke fokus wat leerlinge entrepreneursvaardighede leer soos hoe om sakeondernemings te bedryf en hoe koop en verkoop werk.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou