Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Afrikaanse skole dra by tot hoë slaagsyfer en topuitslae

January 8, 2019 deur Alet Rademeyer

Die gehalte van onderrig wat Afrikaanse skole bied, is steeds van wêreldgehalte. As dit nie vir die bydra van dié skole was nie, sou die departement van basiese onderwys ’n veel laer matriekslaagsyfer en baie minder vakonderskeidings gehad het om mee te spog.

Dít is van die bevindings in ’n verslag van die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) van die Solidariteit Beweging wat vandag in Pretoria vrygestel is.

Luidens die verslag was die algehele slaagsyfer van matrikulante in Afrikaanse skole verlede jaar 86,9% teenoor die nasionale slaagsyfer van 78,2%. Sou Afrikaanse skole uit die vergelyking gelaat word, sou die nasionale slaagsyfer 76,7% gewees het. Die SOS het in sy navorsing ook vasgestel dat enkelmedium Afrikaanse skole ’n slaagsyfer van 90% behaal het.

Van die prestasies wat Afrikaanse skole behaal het, is:

  • Bykans die helfte (49%) van Afrikaanse matrikulante het met universiteitsvrystelling geslaag;
  • Sowat 7,5% van matrikulante in Afrikaanse skole het onderskeidings in wiskunde behaal, teenoor 1,9% van die nasionale groep;
  • Tien uit die twintig skole, wat die meeste A-simbole behaal het, is Afrikaanse skole; en
  • Paul Roos Gimnasium het die meeste onderskeidings in wiskunde en rekeningkunde van al die skole in die land behaal en die Hoërskool Waterkloof die meeste A’s in fisiese wetenskappe.

Valentyn van der Merwe, wiskunde-spesialis verbonde aan die SOS, het gesê, hoewel Afrikaanse skole geweldig goed in wiskunde presteer en vanjaar 400% meer onderskeidings in die vak as die res van Suid-Afrika ingepalm het, is daar egter ook uitdagings en moet leerlinge aan hoër orde denke en redenering in vandag se Wiskunde-klaskamer blootgestel word.

Hy meen leerlinge word nie vir die 21ste eeu voorberei nie en huidige tegnologie het dit moontlik gemaak om die antwoorde van meeste van die vrae in die wiskunde-vraestel, wat nie interpretasie verg nie, met ’n slimfoon uit te werk.  Die SOS kon binne 25 minute die eindeksamen slaag slegs met die gebruik van tegnologie.

“Afrikaanse skole presteer goed en het dus die ruimte om hoër denke in die klaskamer te bevorder wat vir ’n nuwe tegnologiese era nodig is.”

Dr. Danie Brink, hoof van die SOS, meen Afrikaanse skole en ’n klomp Engelse skole is die trots van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en moet gekoester word. “Maar, soos alle vorme van assessering, veral summatiewe/opsommende assessering, het die matriekeksamen ook sy tekortkominge. Die leerlingeienskappe wat 100 jaar gelede nodig was, word steeds deur vandag se stelsel beloon en stem baie ooreen met standaardisering, tyd-effektiwiteit, minimalisering van foute en onaanvaarbaarheid van afwyking van die norm.”

Volgens Brink was dit voldoende in ’n industriële era, maar die tegnologiese era vereis ander vaardighede van jongmense. Vandag word oral klem gelê op kommunikasie, kritiese denke, samewerking en kreatiwiteit. (Die sogenaamde vier C’s: communication, critical thinking, collaboration en creativity).

“Ons is bekommerd dat leerlinge nie met die vier C’s toegerus word nie en wil skole met uitstekende uitslae en briljante leerlinge aanmoedig om hul passies te volg ter verbetering van hul gemeenskappe en te verseker dat hulle leer om innoverend en kreatief te wees en te dink.”

Marna Jordaan, hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, wat met van die heel beste uitslae in die land spog, het die SOS-verslag verwelkom en gesê is dit goed dat vernuwend na die matriekuitslae gekyk word en dat die fokus nie net op onderskeidings val nie.

Jordaan het gesê die gehalte van onderrig is van kardinale belang vir goeie uitslae. “Die vakkennis van onderwysers en genoeg tyd vir behoorlike en intensiewe onderrig in vakke kan nie genoeg beklemtoon word nie.”

Jordaan meen baie leerlinge se onvermoë om te presteer of nog beter te doen, hou verband met hul leesvermoë en ’n gebrek aan ’n behoorlike taalgrondslag. “Kinders sukkel om met begrip te lees en kan nie toepas wat hulle lees nie. Dit is steeds ’n enorme uitdaging in die stelsel.”

Jordaan het sukses by Afrikaanse skole ook toegeskryf aan die feit dat dié onderwysers ongelooflik hard werk, bereid is om opleiding te kry en ook op die holistiese opvoeding van die kind ingestel is.”

Carien Bloem, onderwyskoördineerder by AfriForum, verwelkom ook die SOS-verslag en meen die sukses van Afrikaanse skole kan ook toegeskryf word aan toegewyde onderwysers, skoolbesture met prominente leierskap en ’n betrokke ouergemeenskap.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou