Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Akademici en taalregtestryders pak hoofregter oor Engels as taal van rekord in howe

September 27, 2017 deur Jhua-nine Wyrley-Birch

Deur Alet Rademeyer

Hoofregter Mogoeng Mogoeng moet sy beweerde besluit om Engels die enigste taal van rekord in howe te maak, verduidelik.

Hy moet sê op watter gronde en gesag hy dié besluit geneem het, versoek akademici, taalregtestryders en AfriForum in ’n gesamentlike ope brief wat vandeesweek aan hom gestuur en in City Press gepubliseer is.

In April vanjaar het Sunday Times oor Mogoeng, hoofregter van die Konstitusionele Hof, se besluit berig. ’n Skrywe is toe aan hom gerig wat hy nie beantwoord het nie.

Akademici soos me. Zakeera Docrat van Rhodes Universiteit, proff. Russel H. Kaschuia, ook van Rhodes, en Monwabisi K. Ralarala van die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT), Kerneels Lourens, taalstryder, Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, en Annelise de Vries, taalbeplanningskoördineerder by AfriForum, wil in die ope brief onder meer weet waarom die besluit nie in die Staatskoerant afgekondig is nie.

Die partye voer aan dat die hoofregter ingevolge die Wet op Hooggeregshowe nie die mag het om taal van hofrekord in Suid-Afrikaanse howe te beslis nie al geniet hy die meerderheid steun van die hoofde van howe. Volgens hulle berus die besluit by die uitvoerende gesag wat onderhewig is aan parlementêre oorsig.

Voort verwys die Grondwet daarna dat praktiese en positiewe maatreëls getref moet word om die status en gebruik van Afrika-tale te bevorder. Die vraag is dus hoe dit bereik kan word as Engels tot super amptelike taal verhef word. Deur Engels tot enigste taal van rekord in howe te verhef, word die oppergesag van die reg, die beginsel van taaldiversiteit sowel as die basiese reg tot toegang tot howe ondermyn.

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA), steun ook die ope brief en meen die beweerde besluit wat sonder enige konsultasie geneem is, is ongrondwetlik. Dit ressorteer ook nie onder die besluitnemingsbevoegdheid van die hoofregter en die hoofde van die onderskeie hooggeregshowe nie, sê Danie Beyers, voorsitter van die VRA.

Die partye bevraagteken ook die grondwetlikheid van die besluit met betrekking tot die taalregte van beskuldigdes.

Mogoeng word ook gevra waarom daar geen openbare deelnameproses was om Engels as enigste hoftaal te gebruik nie. “Wat het die besluit gemotiveer en in wie se belang is dit?”

Die partye wys ook op die negatiewe impak wat die besluit op regslui het en vra op watter gronde hul benadeling geregverdig is.

Mogoeng is ook op die 2011-sensussyfers gewys wat bevind het net 9,6% van die bevolking het Engels as huistaal. Daarbenewens het Regshulp SA se opname in 2016 aangedui dat primêre taal wat in siviele sake gebruik was neergekom het op 21% Zoeloe, 20% Afrikaans en 16% Xhosa. Ook in strafsake is 24% Zoeloe, 22% Afrikaans en 20% Xhosa gebruik.

Die partye voer aan dat die gebruik van net Engels nie deursigtig en in pas met die waardes van die Grondwet is nie. Daar word voorgestel dat ’n behoorlike taalbestuursplan vir howe voorberei word wat die amptelike tale in die verskillende streke ook akkommodeer.

Die huidige besluit ignoreer Suid-Afrika se veeltalige werklikheid, sê hulle.

Volgens Beyers het die VRA ’n litigasiekomitee saamgestel om alle opsies te oorweeg en daar sal met alle belanghebbende groepe en individue, wat die grondwetlike voorskrifte van taaldiversiteit ondersteun, saamgewerk word om die beweerde besluit om te keer.

Die VRA doen intussen ’n beroep op alle regters om getrou te bly aan hul ampseed om die Grondwet te handhaaf en te beskerm en om die burgerregte, waaronder taalregte, wat daarin verskans is, te gehoorsaam. Regslui word ook aangemoedig om nie aan die taalimperialistiese besluit gehoor te gee nie. “Lede van die publiek as kliënte van regslui moet aandring om hul hofstukke in hul eie taal te laat opstel. Dit wil sê in enige van die elf amptelike tale.”

Die VRA het reeds vroeër in ’n voorlegging oor die gebruik van amptelike tale vir rekordhouding in howe sy kommer uitgespreek oor die toenemende gebruik van net Engels.

Die VRA het aangevoer dit is tot benadeling van al die ander amptelike tale aangesien die taal van rekordhouding in howe ’n kritiese impak op die regte van beskuldigdes, getuies en litigante in siviele sake het sowel as op die gehalte van ’n behoorlike regstelsel.

Die VRA het voorgestel dat daar na beleide, strukture en fasiliteite gesoek word wat gepas is in ’n demokratiese post-koloniale Suid-Afrika en wat spreek tot die behoeftes van alle Suid-Afrikaners.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou