Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Departement moet skole regruk om dissipline-probleme hok te slaan

April 10, 2018 deur Alet Rademeyer

Ouers en onderwyskundiges deel die Gautengse departement van onderwys se kommer oor die hoë vlakke van misdaad wat by sommige van die skole in die provinsie voorkom.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het pas bekend gemaak dat daar in 2017 altesame 479 strafregtelike oortredings in die provinsie se skole gepleeg is. Die meeste oortredings, sowat 130, hou verband met die besit van onwettige middels soos dagga en nyaope. Ander oortredings is ontwrigtende gedrag (75), diefstal (56), aanranding en gevegte onder leerlinge op die skoolterrein (49), die besit van gevaarlike wapens (23), aanranding van onderwysers (31), boeliegedrag (21) en seksuele teistering (10).

Lesufi het ’n beroep op ouers gedoen om te help om dissipline binne en buite die skool toe te pas.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, meen ook die verslag is skokkend.

Sy wys egter daarop dat nie alle skole oor dieselfde kam geskeer kan word nie en dat die meerderheid van oortredings by disfunksionele skole voorkom.

Verskeie studies wat in die verlede gedoen is, dui daarop dat tot 80% van skole in die land disfunksioneel is.

Bloem meen Lesufi en amptenare in die departement moet ook hul verantwoordelikheid besef deur te verseker dat skole funksioneel is en onderwysers en personeel bemagtig is om dissipline toe te pas.

“Baie onderwysers en skoolhoofde voel uitgelewer en meen daar is niemand wat hulle beskerm nie. Dit lei tot ’n lae moreel onder onderwysers en ander personeel. Die departement moet ag daarop slaan wanneer skole probleme met leerlinge onder hul aandag bring. Hoofde, onderwysers en beheerliggame moet ook ondersteun word wanneer tugverhore of skorsing van leerlinge moet plaasvind.”

Bloem sê voorts skole moet ook waar moontlik gebruik maak van die hulp en dienste van kundiges soos maatskaplike werkers en sielkundiges.

Die burgerregte-waghond is ook bewus van afknouery en boelies in skole en het in Julie 2017 ’n teenboelieveldtog geloods.

Verskeie skole is reeds by die veldtog betrek en ’n gids, Teenboeliegids: ’n Leier se gids om afknouery in skole hok te slaan, sal ook binnekort vrygestel word.

Leandie Bräsler, koördineerder van die veldtog, sê talle ouers is nie daarvan bewus dat hul kinders geboelie word nie en kinders is dikwels te bang om vir hul ouers of volwassenes te vertel dat hulle slagoffers is. “Daarom is bewusmaking en bemagtiging van kardinale belang.”

AfriForum het besluit om die gids saam te stel omdat die organisasie ook baie navrae van ouers kry oor wat hul te doen staan as hul kinders geboelie word.

 

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou