Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Elke landsburger moet die reg hê om eie identiteit te kies

October 4, 2018 deur Jhua-nine Wyrley-Birch

Wanneer dit by identiteitspolitiek kom, moet alle kulture en gemeenskappe gerespekteer word om hulself te identifiseer om sodoende eenheid in diversiteit in Suid-Afrika te skep.

Dít was die  sleutelboodskap van al die deelnemers aan die eerste Rede-kabel-gesprek op Aardklop waar die tema: Afrikaner, bruin, Afrikaanssprekend, Afrikaan, Kleurling, Boer, Khoi-San, Suid-Afrikaner. Wie is ons? En maak dit saak? bespreek is.

Elkeen van die deelnemers is ook  versoek om te sê as wie of wat hulle hulself identifiseer.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê dat hy as ’n Afrikaner en Suid-Afrikaner identifiseer en dat veelvuldige identiteite ’n normale demokratiese praktyk in die wêreld is. Hy het verwys na mense in Brittanje wat byvoorbeeld ’n Britse paspoort het, maar ook Skotte is en mense in Namibië wat Ovambo’s, maar ook Namibiërs is.

Hy het ook sy kommer uitgespreek dat owerhede die multikulturele werklikheid van Suid-Afrika wil omskep in die beeld van ’n monokulturele land. Hy meen individue soos Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gebruik woorde soos inklusiwiteit onder die dekmantel van verskeidenheid om eintlik eenvormigheid af te dwing.

Hy het benadruk dat mense die ruimte gegun moet word om hul kultuur en identiteit uit te leef om die beste Suid-Afrikaners te wees wat hulle kan wees en dat wedersydse erkenning en respek belangrik is.

Christo Davids, akteur en skrywer, het gesê dat hy eerstens ’n pa is en verkies om na homself as ’n bruin mens te verwys. Volgens hom is ’n groot gedeelte van die konsep van “’n bruin man” ’n produk van kolonialisme en om die vraag oor wie mens is te beantwoord, is uiters moeilik. “In my nuutste produksie vra ons byvoorbeeld die vraag wat van jou identiteit oorbly as jou kleur of ras geskrap moet word. Ek het wel nie die antwoord nie.”

Hy het voorts gesê dat die struggle teen apartheid dikwels as ’n swart struggle gedefinieer word en dat daar nie erkenning gegee word aan lede van al die ander bevolkingsgroepe se bydrae nie – al is verskillende rasse en groepe daardeur geraak.

Davids meen ook dat verskille gerespekteer moet word. “Net omdat jy wit, bruin of Indiër is, beteken dit nie jy word nié deur die verlede geraak nie. Hoe gouer ons dit begin respekteer dat ons almal van mekaar verskil, hoe beter. As ek na ’n swart of ’n wit ou kyk en sê ek sien nie sy kleur nie, ontken ek sy verlede. Ons moet respek daarvoor hê dat ons verskillend is.”

Raymond Willemse, hoof van Beeld se Metro-projekte, het gesê hy identifiseer as ’n Kleurling, maar werk nog daaraan om homself te “vind.”

Hy het daarop gewys dat baie jongmense vandag nog soek na identiteit en aanvaarding en dat mense daaroor praat om mekaar te kan vind en verstaan. Hy het vertel dat hy grootgeword het in die Kaap in ’n gemeenskap wat trots is om Kleurlinge genoem te word en waar die term “bruin mens” ’n bietjie aanstoot gee.

“Ons is Suid-Afrikaners en tóg word ons gegroepeer. Eers is Trevor Manuel die eerste swart minister van finansies genoem en toe kom Nhlanhla Nene en hý word die eerste swart minister van finansies genoem. Ons suig dus aan die agterspeen, maar dit is wie ons is en ons is trots daarop.”

 

Dr. Danny Titus, uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV, meen Suid-Afrika sal by eenheid in diversiteit uitkom wanneer mense hul verskille erken en gemaklik daarmee is.

“In die huidige Suid-Afrika is daar tot die besef gekom dat Suid-Afrikaners nie ’n eenvormige groep hoef te wees nie. Suid-Afrikaners is nie met behulp van ’n koekievorm gedruk en lyk derhalwe almal dieselfde nie.”

Hy het met Buys saamgestem dat mense ook moet kan “selfidentifiseer”, maar van hom verskil oor die owerhede se strewe na ’n monokulturele land.

Volgens Titus was die kwessie van identiteite voorheen uitdagend en verdelend, maar dat eenvormigheid nie nou op mense afgedwing word in die nuwe Suid-Afrika nie.

Hy het ook daarop gewys dat die Gelofte deur ’n bruin man, Jan Gerhard Bantjes, geskryf is. “Ons geskiedenis is ’n klomp liegstories en ons moet dit begin afleer en in ruimte en vryheid met mekaar in gesprek tree om te bou aan hierdie land. Ons het die ANC, die Zoeloes en Afrikaners nodig.”

Volgens Titus wroeg baie Suid-Afrikaners met hul identiteit, omdat hulle nog in die verlede leef en nog nie van apartheid afskeid geneem het nie. “Ek simpatiseer nie met die feit dat mense nog nie wil besef dat die ‘vyand’ weg is nie. Ons het tans groter uitdagings in die land wat ons met baie meer energie en krag moet aanpak. Ons moet bewus wees van die verlede, maar ek dink nie ons kan in die verlede vassit nie. Apartheid bly dan die vyand en die verdelende faktor.”

* Die Rede-kabel-gesprekreeks word aangebied in samewerking met Beeld, kykNET-verslag, Prontuit en KLOP!

 

 

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou