Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Gebruik van regte wette noodsaaklik vir suksesvolle uitsettings tydens grondgrype

July 31, 2018 deur Alet Rademeyer

Grondgrype, onwettige grondbesettings en voorstelle om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, is aan die orde van die dag.

Boere en eienaars van landbougrond veral, is bekommerd oor die toename in grondgrype en besettings wat die afgelope maande duidelik toegeneem het.

In die lig van hierdie dreigende krisis het die Vereniging van Regslui  vir Afrikaans (VRA) onlangs ’n insiggewende seminaar aangebied waar uitsettings en remedies by grondgrype aan die hand van bestaande wetgewing verduidelik is.

Tiaan van Dyk, regsgeleerde en afdelingshoof van die VRA-Gilde, en adv. Johan Hamman het die seminaar aangebied.

Van Dyk het ’n oorsig van die onderskeie wette en reg gegee wat uitsettings moontlik kan raak. Hy het gesê as die regte wette nie in ʼn uitsettingsaak gebruik word nie, sal dit die saak in die weegskaal plaas. Die feite van ’n saak moet met die definisies van die onderskeie wette vergelyk word om te bepaal watter wet van toepassing is.

Die belangrikste wette is Esta (Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 62 van 1997), wat spesifiek met okkupeerders op plase handel, die Restitusiewet (Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994), die Huurarbeiderwet (Wet op Grondhervorming, 3 van 1996), Pie (Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsettings en onregmatige Besetting van Grond, 19 van 1998) en die gemene reg.

Die Restitusiewet is van toepassing indien die eisers ʼn reg in grond gehad het en daardie reg in grond hul ontneem is tussen 19 Junie 1913 en 31 Desember 1998. Die ontneming moes plaasgevind het op grond van rasgebaseerde wetgewing of praktyke en die eiser moes geen of onvoldoende vergoeding gekry het. Die eerste rondte eise moes ingedien gewees het voor 31 Desember 1998. ’n Tweede rondte eise is tussen 2014 en 2016 ingedien en dit gaan waarskynlik vir ’n derde keer heropen word.

Die reg in grond beteken nie noodwendig eiendomsreg soos dit in die algemeen in die Westerse opset geld nie. Ingevolge die Restitusiewet beteken reg in grond onder andere voordelige okkupasie vir 10 jaar of langer, deelsaaier, die regte van ’n huurarbeider en ongeregistreerde swart eienaarskap. Ongeregistreerde eienaarskap beteken bloot die persoon wie fisies eienaarskap van die plaas uitgeoefen het asof hy of sy in terme van ’n titelakte die geregistreerde eienaar was.

Die Huurarbeiderwet verwys na ’n persoon wat ’n huurarbeider-ooreenkoms aangegaan het, wat op die grond woon of die reg het om daarop te woon en wat arbeid in ruil vir regte soos weiding of plantregte verskaf het. Sy ouers of grootouers moes op dieselfde basis op die plaas gewoon het. Die verwysing na arbeid in ruil vir regte beteken egter nie dat die huurarbeider nie ook kontantvergoeding kon kry nie.

Daar word in die algemeen ook na die Pie-Wet as die Plakker-Wet verwys wat neerkom op iemand wat sonder toestemming op iemand anders se grond woon. Die wet is egter ook van toepassing wanneer huurders wie se huurkontrakte tot ʼn einde gekom het, uitgesit moet word.

Die Wet op Oortreding, 1959 (wetno. 6 van 1959) kan in die geval van ’n betreder en plakker gebruik word en die remedie is strafregtelike klagte en siviele arrestasies. Die wet is van toepassing op mense wat op of oor ander se grond beweeg (betreders) of wat begin het om strukture op te rig met die doel om op die grond te woon (potensiële plakker). ’n Plakker kan ook iemand wees wie reeds strukture voltooi én dit bewoon. Om van plakkers ontslae te raak moet die Wet op Oortreding sowel as die Pie-Wet gebruik word. Die remedie hiervoor is strafregtelike klagtes, uitsettingsaansoeke en dagvaardings.

Die Esta-Wet handel met okkupeerders wat neerkom op iemand wat met toestemming op iemand anders se grond woon en wat ’n inkomste van minder as R13 625 per maand verdien. Die beginsel ten opsigte van grond hier ter sprake is dat dit slegs op landbougrond van toepassing is en dus so gesoneer is. By die Pie- of plakkerwet geld die teenoorgestelde. Dit gaan oor die gebruik van die grond ongeag waarvoor dit gesoneer is. Toestemming kom ook daarop neer dat die persoon op een of ander stadium toestemming tot verblyf gekry het van vorige eienaars of van persone in beheer wat toestemming verleen het. Dit is irrelevant of verblyf later onregmatig geword het en die Esta-wet bly dan van toepassing.

Dit is belangrik dat onderskeid tussen ’n plaaswerker en okkupeerder getref moet word. ’n Werknemer (plaaswerker) woon nie noodwendig op die plaas nie en is dus wel arbeider maar nie ’n okkupeerder op daardie plaas nie. ’n Okkupeerder daarenteen werk weer nie noodwendig op die plaas waar hy woon nie en is net ʼn okkupeerder op die plaas waar hy woon nie. As hy op ʼn naburige plaas werk is hy op daardie naburige plaas net ʼn arbeider en nie ook ʼn okkupeerder nie. ’n Dienskontrak word met ’n arbeider aangegaan, terwyl ’n huurarbeiderkontrak met ’n huurarbeider gesluit word, en ʼn verblyfooreenkoms met ʼn okkupeerder.

Dit is soms moeilik om tussen ’n huurarbeider en okkupeerder te onderskei en derhalwe moet na die aard van die ooreenkoms gekyk word sowel as die vergoeding en waarde van regte.

Van Dyk beklemtoon dat dit van uiterste belang is dat plaasreëls oftewel verblyfvoorwaardes vir alle partye baie duidelik uiteengesit en uitgestippel moet wees. Dit is belangrik om daarop te let dat ooreenkomste van vorige eienaars en huurders met okkupeerders geldig en afdwingbaar en bindend op opvolgers in titel is. Daarom moet verblyfreg ook in koop- en huurkontrakte aangespreek word.

Praktiese wenke in die verband is om verklarings van vorige eienaars, familielede, bestuurders, werkers, bure en langslewendes te kry. Kennisgewings, diensooreenkomste, skrywes en notules wat die toedrag van sake verduidelik, moet veilig op meer as een plek gebêre word.

Van Dyk wys daarop dat eienaars bepaalde regte en pligte het, en dat wanneer besluite rondom kwessies soos die beëindiging van verblyfreg geneem word dit billik en regverdig moet wees. Omstandighede sal bepaal wat billik en regverdig is.

Van Dyk meen probleme op plase kan toeneem en daarom moet eienaars meer paraat en oplettend wees. Deeglike beheer moet toegepas word en deeglike rekord moet van enige voorvalle of oortredings gehou word.

Van Dyk se raad aan grondeienaars is ook dat uitsetting net gedoen moet word as dit werklik nodig is. Uitsetting moet end-uit gevoer word anders dink die okkupeerders / plakkers hul het gewen as die saak voortydig gestaak word. Grondeienaars het gewoonlik dan meer probleme met die okkupeerders / plakkers.

Hamman het op sy beurt daarop gewys hoe belangrik dit is dat sake in die regte howe gevoer moet word. Daar word byvoorbeeld aanbeveel dat uitsettingsbevele weg van landdroshowe gehou moet word omdat die reg op appèl die prosesse kan uitrek en frustreer.

Hamman het ook die noodsaaklikheid van bewyse en getuienis soos video- en beeldmateriaal en foto’s beklemtoon vir wanneer die howe rondom uitsetting genader word.

Hamman meen uitsettings is dikwels nie suksesvol nie omdat die verkeerde wette in verkeerde howe aangevoer word of wanneer daar nie aan statutêre prosesse voldoen is nie.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou