Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Kampusgeweld 2019: Hier gaan ons al weer!

March 1, 2019 deur Alet Rademeyer

Deur Bernard Pieters

In die afgelope paar weke het kampusse regoor Suid-Afrika weer onder die jaarlikse golf van geweld, dreigemente van geweld en die opskorting van akademiese programme deurgeloop.

Die South African Student Congress (Sasco) het beweer lede van die EFF Student Command (EFFSC) het hulle by die Durban Universiteit van Tegnologie (DUT) met stokke aangeval, terwyl die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) op hul beurt die opskorting van die akademiese program geëis het. Dit is maar net twee gevalle.

By die DUT het ’n student sy lewe tydens kampusgeweld verloor en  ’n dosent is ook dood.

AfriForum Jeug verwerp alle vorme van geweld en aanvaar nie die redes wat studente in die media aanvoer om hul optrede te regverdig nie.

Klas-, verblyf- en registrasiegelde is inderdaad baie hoog. Min mense sal hiervan verskil. Registrasiegeld beloop maklik meer as R10 000 per student per jaar vir voorgraadse studie, terwyl verblyf by ’n koshuis soos by die Universiteit van Stellenbosch sowat R47 000 per jaar kos. Klasgelde verskil van universiteit tot universiteit en ook van graad tot graad. By Maties beloop die koste vir ’n BA-graad sowat R42 000.

Studente of hul ouers moet dus sowat R100 000 per jaar opdok om aan ’n universiteit te studeer. Dan sluit dit nie ander uitgawes soos boeke, kos, internet, klere en vervoer in nie.

Studente het dus rede om hul misnoeë hiermee te kenne te gee, want uiteindelik kan bitter min mense dit bekostig om te studeer. Om te studeer was egter nog altyd duur en is nie ’n nuwe vorm van uitsluiting soos sommige studente beweer nie. Die meeste van ons ouers het óók nie die geleentheid gehad om verder te studeer nie.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) het in 2016 skade van meer as R60 miljoen weens die #FeesMustFall-beweging gely. Die universiteit moet dié geld op een of ander wyse verhaal – en studiegeldverhogings is ’n direkte gevolg hiervan. Dié verhogings is dus ’n direkte gevolg van studente wat juis oor die verhoogde koste kla. Aksies het gevolge, en baie gewelddadige betogers besef nie dat hulself verantwoordelik is vir die gevolge wat hul dade meebring nie.

Die verhoogde koste is dus nie die universiteit se skuld nie, maar eerder die skuld van beperkte befondsing deur die staat en skade wat deur studente aangerig en weer herstel moet word.

Daar kan baie kritiek voor die deur van die NSFAS (nasionale studentefinansieringshulpskema) gelê word. Die staat administreer egter die fonds, en om die universiteite te wil “afbrand” en “onregeerbaar maak”, gaan ook nie die probleem oplos nie.

Daar is tans ’n tendens waar mense versigtiger is om verblyf aan studente te verskaf wat met NSFAS-lenings of -beurse studeer. Die rede is eenvoudig: Jy as verhuurder het geen waarborg wanneer jy betaling gaan ontvang nie. NSFAS-betalings is nie betyds nie en soms word studente eers aan die einde van ’n jaar betaal. Vanuit die verhuurder se perspektief bly die student dus vir ’n paar maande gratis, terwyl die verhuurder nie bykomende geld vir instandhouding, of munisipale- of ander rekeninge ontvang nie. Dit is dus nie vreemd dat die vraag na verblyf nie deur ’n privaat aanbod aangespreek word nie.

Altesame R75,6 miljard. Dít is hoeveel die ANC in 2018 vermors het. Die bedrag is slegs van toepassing op onnodige uitgawes.

Dan is dit beslis nie verregaande om te vra hoeveel van die probleme op kampusse nie met dié geld opgelos kon word nie.

En as dit nie vir die universiteitsektor aangewend kon word nie, is die vraag steeds hoeveel skole, hospitale en huise hiermee gebou kon word.

Met R75,6 miljard kon 756 000 studente teen ’n gemiddelde jaarlikse uitgawe van R100 000 met beurse, rentevrye of laerente-lenings gestudeer het. Laerente-lenings sou ook kon help om vir die volgende generasie studente voorsiening te maak.

Studente het rede om ongelukkig oor hul omstandighede te wees, maar elkeen moet besef dat hulle ook hul eie omstandighede self gekies het. Deur kampusse deur geweld tot stilstand te dwing, ontneem ander studente van die geleentheid om te studeer.

En dit is onaanvaarbaar.

Studente moet persoonlik verantwoordelikheid vir hul lewens aanvaar. As dit om finansiële en ander redes nie vir jou beskore is om universiteitsopleiding te kry nie, oorweeg dit dan om kollege-opleiding of enige ander vaardigheidsontwikkeling te kry. Afstandonderrig deur instansies soos Unisa en Akademia is ook ’n moontlikheid.

Bernard Pieters is betrokke by AfriForum Jeug.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou