Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Klaskamers moet verander om tred met industriële revolusie te hou

June 12, 2019 deur Alet Rademeyer

Die wêreld is besig om radikaal en teen ’n enorme spoed te verander. Onderwysers wat nie onderrig, die klaskameropset en hulself aanpas om tred met dié veranderinge te hou nie, sal kort voor lank irrelevant wees.

Dít is die mening van kundiges wat vandag sprekers by die Solidariteit Skole Ondersteuningsentrum (SOS) se kongres in Centurion was.

Stefan Botha en dr. Lieb Liebenberg van FutureLearn en ITSI (’n e-leer verskaffer), het aan onderwysers verduidelik dat geweldige ontwrigting in die wêreld plaasvind en dat reeds van die 4de en 5de industriële revolusie gepraat word. “Die verwagting is dat 40% van 500 groot maatskappye oor tien jaar nie meer sal bestaan nie en dat talle tradisionele beroepe net so vinnig gaan verdwyn. Rekenaars en robotte gaan ’n groot deel van mense se werk oorneem.”

Botha sê onderwysers moet daarom versigtig wees om vir leerlinge te vertel dat hulle byvoorbeeld ’n sjef kan word of enige ander beroep kan volg wat dalk nie meer oor tien jaar sal bestaan nie.

“Die enigste ding wat konstant is, is verandering. En dit is met die realiteit in gedagte dat jongmense vir die toekoms opgelei moet word.

Liebenberg meen mense kan verskillend op die uitdagings van die 21ste eeu reageer. Sommige sal dit eenvoudig vermy en hul kop in die sand druk, terwyl ander weer na tegnologie sal gryp.

Hy meen net so noodsaaklik as wat dit is dat leerlinge steeds moet kan lees en skryf, gaan die toekoms vereis dat hulle programmering moet kan doen.

Hy het ook na die sogenaamde 6 C’s verwys wat, net soos vandag, ook vir toekomstige werknemers noodsaaklik gaan wees. Dit is kommunikasie, groepswerk, kreatiwiteit, kritiese denke, karakterontwikkeling en burgerlike verantwoordelikheid. “Een van die heel belangrikste vaardighede wat onderwysers kinders moet help bemeester, is die vermoë om te kan leer. Niemand weet hoe die wêreld in 2050 gaan lyk nie. Almal besef egter dat daar enorme uitdagings soos die impak van globale verwarming, bevolkingsontploffings, natuurrampe, watertekorte en outomatisering gaan wees. Die leerlinge wat vandag op die skoolbanke sit, gaan antwoorde op dié moderne probleme moet kan gee. En om dit te kan doen, sal hulle oor die vermoë moet beskik om te kan leer.

“Die beste strategie as onderwyser is nie om namens kinders na oplossings vir probleme te soek nie. Hulle moet met denkvaardighede toegerus word, selfgedrewe gewees en oor die nodige selfvertroue beskik om te glo dat hulle enigiets kan bemeester.”

Janetta van Niekerk, hoof van die Laerskool Die Krans in Pretoria, het met onderwysers gepraat oor die rol wat hulle het om gebalanseerde volwassenes vir die toekoms te help ontwikkel en hoe ’n goeie fondasie vroeg in kinders se lewens gelê moet word.

Sy het na die Finse onderwysmodel verwys waarby Suid-Afrikaanse skole heelwat kan leer. Sy het gewaarsku dat onderwysers nie in die slaggat moet trap om te vroeg te veel vaardighede van hul leerlinge te vereis nie en ook om versigtig te wees vir ’n beloningstelsel in die klaskamer wat meer skade as goed doen. Sy het ook raad gegee oor hoe onderwysers omsigtig met assessering moet omgaan ten einde nie ’n angs en vrees vir leer by die kind te ontwikkel nie.

Herman Byleveld, verbonde aan die Laerskool Muldersdrif, het oor die verskille tussen verskillende generasies gepraat asook wat van die grootste uitdagings vir die generasies is om saam te werk. Hy het onder meer na die eienskappe en kenmerke van Generasie Z verwys wat tussen 7 en 21 jaar oud en nou op die skoolbanke is. Dié generasie is ná 1995 gebore en hulle dra as’t ware geen kennis van enige tyd voor die internet nie.

Van die eienskappe wat onderwysers en ouers in gedagte moet hou rondom dié generasie, is dat hulle stadig groot word, bang is vir volwassenheid, hulle dikwels weerhou van volwasse-aktiwiteite soos sosialisering en verhoudings. Hulle is dikwels oorbeskermd en lyk jonger as hul werklike ouderdom.

Dit neem hulle ook byvoorbeeld langer om bestuurslisensies te kry omdat hulle in beskermde omgewings grootword. Jongmense van dié generasie kyk tot 80 keer op ’n dag op hul slimfone. Hulle is baie visueel ingestel en weens hul gebruik van tegnologie lyk dit of hulle baie besig is. Hulle is minder sosiaal, dikwels alleen, maar altyd aanlyn. Indien hulle werk, is dit vir hulle prakties van aard en nie aan intrinsieke motivering gekoppel nie.

Byleveld meen die verskil en verandering in generasies is nie noodwendig negatief nie. Dit kan ook positief en neutraal wees.

 

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou