Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Nuwe “Groot Trek” na sowat 30 volhoubare dorpe en stede

October 10, 2018 deur Alet Rademeyer

Afrikaners gaan nie verdwyn nie en ’n bevolkingsverskuiwing is reeds onder hulle aan die gang vanaf sowat 300 dorpe oor die land heen na 30 dorpe en stede.

Dié verskuiwing neem bykans die vorm van ʼn hedendaagse “Groot Trek” aan, het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, vandag op ’n nuuskonferensie gesê waar ʼn omvattende bevolkingstudie deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) bekendgemaak is.

Die studie is die afgelope twee jaar gedoen en dui onder meer aan waarheen Afrikaners deesdae in Suid-Afrika trek en hoe hul getalle teen 2031 in sowat 30 dorpe en stede kan uitsien.

Die studie is gedoen met die oog op strategiese besluite ten opsigte van ontwikkeling en volhoubaarheid vir Afrikaners in die toekoms.

Volgens Buys is Afrikaners se probleem nie hul getalle nie, maar wel hul yl verspreiding. “Dit gee daartoe aanleiding dat Afrikaners byna orals in die noorde van die land ʼn minderheid met dieselfde probleme is. Hierdie studie toon dat ʼn natuurlike konsentrasieproses aan die gang is, met mense wat vanself begin konsentreer op ‘ankerdorpe’ wat aan sekere maatstawwe vir volhoubaarheid voldoen.

“Hoewel dit kommerwekkend is dat die meeste kleiner dorpe in die land so agteruitgaan dat mense die dorpe verlaat, maak die groter konsentrasie op hierdie 30 plekke beter dienste en groter getalle vir byvoorbeeld die daarstelling en bedryf van Afrikaanse skole moontlik en meer volhoubaar.” Die voordeel is dat meer as 80% van die bykans 500 000 lede van die Solidariteit Beweging in en om hierdie ankerdorpe woon en werk.

Volgens Buys is die grootste uitdaging vir die Solidariteit Beweging die onmoontlike taak om “staatsdienste” landswyd sonder staatsinkomste en ʼn doeltreffende staatsdiens te lewer. “Ledeorganisasies van ons beweging, soos AfriForum en die Helpende Hand, word daagliks genader om te help met munisipale, maatskaplike, veiligheids-, opvoedkundige en ander dienste aan die gemeenskap. Die behoefte kan toegeskryf word aan die verswakking en selfs die verval van die staat se dienste op talle plekke in die land.

“As toekomsgerigte organisasie bied hierdie navorsing vir ons riglyne oor waar ons gemeenskapsdienste kan konsentreer om dit meer volhoubaar en kostedoeltreffend te maak. Weens die toenemende druk op Afrikaans en Afrikaners in die openbare sfeer, is dit onafwendbaar dat die vestiging van burgerlike alternatiewe nodig gaan wees. Hierdie studie gaan ons lei om te weet waar ons moet belê in die toekoms. Dit stel ons ook in staat om noodsaaklike dienste vanaf hierdie ankerdorpe te lewer aan mense wat in die omliggende kleiner dorpies woon. Dit is insiggewend dat feitlik die hele land binne twee uur se ry vanaf die naaste ankerdorp geleë is. Dit sal die verlening van bystand aansienlik makliker maak.”

Connie Mulder, hoof van die SNI, het ’n voorlegging gedoen oor hoe die demografie in die toekoms by die ankerdorpe kan uitsien. Hy meen egter dat demografie en migrasie ’n wisselvallige veld is wat deurlopend kan verander. “Die verslag dien net as ’n vertrekpunt.”

Volgens hom blyk dit dat mense na ankerdorpe trek vanweë betreklik groter veiligheid, beter munisipale dienste, onderwys, gesondheidsorg, ekonomiese aktiwiteite en kulturele dienste.

Barend Uys, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, verantwoordelik vir gemeenskapsake, het gesê die bevindings van die navorsing gaan in die volgende maande met AfriForum-takke landwyd bespreek word om te verseker dat aandag aan alle tersaaklike faktore gegee word.

Ná die raadplegingsproses sal die lys van ankerdorpe beter gefinaliseer kan word. Dit sal ook dan meer moontlik wees om te bepaal watter dienste op watter dorpe nodig is of uitgebou moet word om volhoubaar te bly.

Buys meen volhoubare dorpe en stede sal ook ’n raamwerk bied wat met die regering en ander gemeenskappe bespreek kan word om samewerking tussen almal in die land te verbeter.

Die navorsing het getoon dat die verspreiding van wit Afrikaanse mense in 2011 sowat 40,8% in Gauteng was teenoor 4,2% in Limpopo, 9,0% in Mpumalanga, 8,1% in Noordwes, 7,5% in die Vrystaat, 4% in KwaZulu-Natal, 5,6% in die Oos-Kaap, 2,7% in die Noord-Kaap en 18,1% in die Wes-Kaap. Teen 2031 sal dit 42,5% wees in Gauteng, 3,3% in Limpopo, 14,4% in Mpumalanga, 7,4% in Noordwes, 1,8% in die Noord-Kaap, 16,9% in die Wes-Kaap, 3,1% in KwaZulu-Natal, 5,6% in die Vrystaat en 4,9% in die Oos-Kaap.

Hier is die ankerdorpe wat geïdentifiseer is. Die getalle in hakies dui min of meer op hoeveel wit Afrikaanse mense teen 2031 hier sal woon.

Limpopo: Pietersburg (21 552), Tzaneen (10 934) en Nylstroom/Naboomspruit/Bela-Bela (12 202).

Oos-Kaap: Port Elizabeth (67 260).

Mpumalanga: Nelspruit (42 716), Ermelo (14 646), Secunda (55 854) en Middelburg/Witbank (84 586).

Noord-Kaap: Upington (6 256), Kathu (8 009) en Orania.

KwaZulu-Natal: Durban (24 243), Richardsbaai (10 963) en Port Shepstone/Margate (18 291).

Vrystaat: Sasolburg (21 396), Bloemfontein (54 290), Bethlehem (9 559)en Welkom/Odendaalsrus/Riebeeckstad/Virginia (18 174).

Noordwes: Potchefstroom (26 832), Klerksdorp (30 712), Ventersdorp en Rustenburg (39 569).

Wes-Kaap: Paarl (23 634), George (33 972) en Kaapstad (229 358).

Gauteng: Oos-Rand (262 358), Heidelberg (34 151), Krugersdorp (72 014), Meyerton/Midvaal (47 964) en Pretoria, veral die ooste en gedeeltes van Centurion (513 337).

Die navorsers het beklemtoon dat sekere omstandighede en ander faktore soos die voortbestaan van sekere ekonomiese aktiwiteite soos mynbou en landbou die getalle kan beïnvloed en dat hierdie syfers gegrond is op beramings.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou