Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Nuwe landbounetwerkorganisasie wil familieboere bystaan

February 28, 2019 deur Alet Rademeyer

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), ’n landboubelangenetwerk vir boere deur boere, is vandag in Pretoria bekendgestel.

Die organisasie is daartoe verbind om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en bevorder.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die organisasie is gestig om bykomend tot beleidsbeïnvloeding ook ’n aktiewe rol te speel in saakgerigte aksies en strategiese oplossings vir onmiddellike landbouprobleme.

Die organisasie is nie polities verbonde nie en sal hulself beywer om met bestaande landbou-unies met uiteenlopende politieke sentimente saam te werk waar dit in die belang van familieboerderye is.

Dr. Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-unie is as die voorsitter van Saai se direksie aangewys. Lidmaatskap is oop vir alle landbouprodusente, ongeag die grootte van die landbou-onderneming, taal, ouderdom, herkoms of geslag.

“Saai gaan as ’n nasionale eenheidstruktuur bestuur word, en nie ’n federasie nie. Dit maak die gebruik van digitale tegnologie, werwing, kommunikasie, mandaatgewing en saakgerigte optrede makliker. Direkte kommunikasie met ons lede sal verseker dat die netwerk nie lamgelê word deur argaïese strukture en dat hul stemme nie só verlore gaan nie,” sê Rossouw.

Volgens De Jager is Saai besig om samewerkings- en netwerkooreenkomste, en wedersydse ondersteuning te formaliseer met landbou-ondernemings, bedryfsorganisasies, navorsingsinstellings en landbou-organisasies wat op ander steunbasisse fokus. Die nuwe organisasie sal ook saakgerigte aksies neem, soos hulpverlening aan grondeienaars wat die slagoffers van plaasbesettings, plaasaanvalle, onteiening teen geen- of verminderde vergoeding en intimidasie is.

Rossouw sê Saai se vertrekpunt met betrekking tot die onteiening van grond is dat markwaardevergoeding die goedkoopste en enigste volhoubare wyse is om die soort van beleggings en groei in die landbousektor teweeg te bring waarin grondbegunstigdes en ander nuwe toetreders sal kan gedy. Al waarborg die Grondwet nie markverwante vergoeding nie, word dit ook nie verbied nie. Onteiening wat nie teen markverwantevergoeding geskied nie, sal daarop neerkom dat individuele grondeienaars die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid moet betaal.

De Jager meen Saai is ook begin omdat daar ernstige rooi gevaarligte rondom landbou in Suid-Afrika flikker. “Hoekom sal die ANC nie doen wat hy sê oor onteiening sonder vergoeding én wysigings aan die Grondwet aanbring om dit moontlik te maak nie?

“Die ANC is onder groot druk voor die verkiesing en dit gaan vir die beleidsmakers nou net daaroor om stemme te kry om aan bewind te bly.”

De Jager sê dit is in die belang van plattelandse dorpe dat familieboere moet gedy. Klein dorpies se hartklop is familieboerderye.”

Wat beleidskwessies betref, waarsku De Jager dat beleggers nie hierheen stroom nie in die lig van die gronddebat. “Beleggers stroom nie na onsekerheid nie. Die onsekerheid het ook tot gevolg dat boere huiwerig is om in hul eie plase te belê.”

Volgens De Jager moet privaatbesit ten alle koste beskerm word. Dit is ’n internasionale beginsel. “Ons mag nie in die debat oor grond agteroor buig nie. Daar moet markverwante vergoeding wees en dit moet billik en regverdig wees.”

Hy het daarop gewys dat die debat nie werklik oor grondhonger gaan nie. Bitter min mense wil boer en na plase terugkeer. Ons probleem is dat grondhervorming misluk het weens onbevoegdheid, nepotisme en korrupsie. “Wat ons eintlik nou nodig het, is dat die Zondo-kommissie na staatskaping ook kyk wat met grondhervorming gebeur het.”

De Jager het ook na die krisis rondom veiligheid op plase en plaasmoorde verwys en gesê hy gebruik elke platform waar hy kom om dit op die agenda te plaas.

Terence Corrigan, navorser by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), waarsku dat mense nie naïef oor die beleid en bedoelinge van die ANC moet wees nie. Boere in Zimbabwe, wat van hul grond afgesit is, het voor dit ook net gedink dis “politieke onstuimigheid”.

Hy het op ernstige probleme in die land gewys soos dat helfte van jongmense in die land nie werk het nie en waarskynlik nooit gaan kry nie. Die onderwysstelsel is swak en onderrig in wiskunde en wetenskap is van die swakste ter wêreld. Daarbenewens is sowat ’n halfmiljoen mense sedert 1994 vermoor.

Hy het op die ANC se uitvoering en uitrol van sy nasionaal demokratiese revolusie (NDR) gewys en gesê dié ideologie is nog meer skadelik as staatskaping. Een van die ANC-beleide wat ekonomiese groei kortwiek en tot gevolg het dat ’n groeiende aantal Suid-Afrikaners vrees vir die toekoms én die van hul kinders is die aanslag op eiendomsreg asook die aanslag op kommersiële landbou.

Corrigan meen landbouers is uitgelewer aan ANC-beleid en hulle het nie toegang om die politiek te beïnvloed nie. Daarbenewens is daar sekere landbouleiers wat nie die regering as organisasie verstaan nie. “Dit gaan nie oor grondhonger nie, maar eerder daaroor dat die staat alles onder sy beheer wil hê. Eers was dit mynbou en minerale regte en nou grond. Ons moet ons nie ’n rat voor die oë laat draai nie. Die staat wil die uiteindelike sê oor alle eiendom hê.”

Corrigan maan dat as Suid-Afrika totaal in ’n staatsbeheerde moeras verval het, dit ook na Sub- Sahara Afrika sal uitbrei.

Die IRR en Saai se uitgangspunt is dat soveel moontlik idees, feite en oplossings vir probleme na buite gekommunikeer moet word ten einde te probeer verseker dat gesprekke van redelikheid met die regering gevoer word.

Saai moedig boere aan om by die familieboerlandbounetwerk aan te sluit. Besoek www.saai.org.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou