Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Ons is vry om oor vryheid te dink

May 30, 2019 deur Alet Rademeyer

Van tyd tot tyd wroeg ’n mens in jou lewe. Mei was so ’n wroegmaand. Miskien was dit die histerie rondom die afgelope nasionale verkiesing of dalk sommer net die rigting wat sake die afgelope tyd in die land inslaan.

Daar is ’n paar insidente die afgelope maand wat my diep onder die besef gebring het dat Suid-Afrikaners allesbehalwe eensgesind in denke is en dat ons baie baie harder aan wedersydse respek en erkenning moet werk.

Hoe is dit moontlik dat die Menseregtekommissie kan beslis Julius Malema se oproep vir die slagting van wit mense (hoewel nie vir nou nie) is nie haatspraak nie? Hoe moet ons die sogenaamde konteks verstaan waarbinne Malema sulke opruiende uitsprake mag maak? Dít terwyl die vlaag aanvalle en moorde op veral boere skrikwekkend hoog bly? Hoe is dit moontlik dat daar letterlik ’n woordeoorlog tussen regslui in die Gelykheidshof uitgebreek het oor wat die betekenis van die ou landsvlag vir sommige groeperinge is sonder dat gewone mense kans kry om te besluit of te debatteer of dié deel van die geskiedenis summier verban moet word? En waar val Mondli Makhanya, redakteur van City Press, uit om die burgerregte-organisasie AfriForum summier as openlik rassisties te brandmerk en daarvan te beskuldig dat die organisasie lankal die vure van wit weerstand aangesteek het ….

Hierdie en talle ander voortdurende klappe deur die ANC-regering en magsdronk rubriekskrywers in hoofstroommedia na Afrikaners en mense in die algemeen wat net wil sien dat korrupsie uitgeroei word en die land beter funksioneer, is besig om toenemend wrewel by mense te ontketen.

Suid-Afrika is by ’n keerpunt en afgrond. Alle oë is nou op pres. Cyril Ramaphosa om die land in ’n nuwe rigting te neem. Op sy eie gaan hy dit nie regkry nie en afhangend van wie hy kies om sy hande sterker te maak, gaan daar dalk nog eers baie water in die see moet loop voor ons wesenlike verandering sien. Tot dan besef Afrikaners as minderheidsgroep terdeë dat ons op ons eie is en derhalwe ons eie oorlewings- en toekomsplanne moet maak.

Wat my dan ook sommer by Republiekdag vandag (Vrydag 31 Mei) bring. 31 Mei is nie in hedendaagse Suid-Afrika meer belangrik of ’n vakansiedag nie en wie weet, dalk maak een of ander politikus vandag weer neerbuigende aanmerkings oor dié dag uit die geskiedenis.

Dalk gaan dit my weer kwaad maak, maar dit gaan niks aan die geskiedenis en verlede verander nie. Ons geskiedenis kan gekriminaliseer word, ons kan daaroor verneder, bespot en uitgekryt word, maar dit wis dit nie uit nie. En dit wis nie ons herinneringe uit nie.

Vertel maar gerus vir jou kinders wat op 31 Mei 1961 gebeur het toe derduisende mense op Kerkplein saamgetrek het en ons Republiekwording gevier het en die land amptelik die Republiek van Suid-Afrika geword het. Die dag toe die land hom uit die Statebond onttrek en ons onder die Engelse juk uitgekom het. Die dag toe ons ons vryheid teruggekry het. Ons is steeds vry. Veral vry om te onthou wie ons is, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. Geseënde Republiekdag!

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou