Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Pres. Ramaphosa moet besin oor hoekom jong witmense SA verlaat

April 12, 2019 deur Alet Rademeyer

President Cyril Ramaphosa sê vandeesweek jong, wit Suid-Afrikaners moenie die land verlaat nie omdat hulle vaardighede onder meer nodig is om die land te bou.

Hy meen die gevoel wat sommige van hulle het dat hulle nie in hul geboorteland welkom is nie, is onwaar.

Die meerderheid Afrikaners sal egter nie met Ramaphosa saamstem nie. Afrikaners, en ook jong Afrikaners, voel toenemend aan hul vel dat hulle as tweedeklasburgers geag word. Hulle ervaar antagonisme en in sommige gevalle selfs blatante rassisme teen hulle. Daar is nie gelyke geleenthede vir alle Suid-Afrikaners nie. Daarvoor sorg ondeurdagte beleide van sogenaamde transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Jong, wit Suid-Afrikaners is ook nie naïef oor die land nie. Die besonder hoë vlakke van misdaad en veral geweldsmisdaad bekommer elke regdenkende Suid-Afrikaner. En as jy reeds op een of ander manier direk geraak is en ’n slagoffer van geweldsmisdaad was, is dit nie vreemd dat vrees jou ook sal noop om ’n ander heenkome vir jouself en jou gesin te soek nie. Tragies, maar die harde werklikheid.

Die meeste jong, wit Suid-Afrikaners verlaat nie die land hoofsaaklik vir geldelike gewin nie. Hulle wil net veilig voel en nie daagliks aan misdaad, geweld, korrupsie, politieke onstabiliteit en ’n rits ander probleme soos swak dienslewering blootgestel wees nie.

Naas die veiligheidsituasie is werkloosheid waarskynlik ook een van die grootste dryfvere waarom jong, wit Suid-Afrikaners ’n ander heenkome soek. Hoogs begaafde en goed gekwalifiseerde wit mense kry eenvoudig nie vandag maklik of enigsins werk nie. Diegene wat hul eie werk skep of gebore entrepreneurs is, het ’n beter kans om te oorleef. Die regering se toepassing van regstellende aksie, bevoorregting van ’n nuwe swart elite en nepotisme in die staatsdiens én die privaatsektor steek jongmense ook dwars in die krop. Talle beleef eerstehands hoe hul ouers uit hul poste gewerk of afgelê word. Hulle sien nie kans om in hul ouers se voetspore te volg in wat hulle as ’n uiters onregverdige bestel ervaar nie. Dan maar liewer groener weivelde soek en aanvaar dat jy talle opofferings sal moet maak om vir werksgeleenthede oorweeg te word. Vir baie is die gedagte dat meriete en vaardighede in hul aanstellings wel belangrik is, ’n groot oorweging om die land permanent te verlaat.

Boonop is talle jongmense ook van mening dat hulle nooit ’n aandeel aan apartheid gehad het nie, en daarom nie daarvoor gestraf mag word nie.

Suid-Afrika se tanende ekonomie is nog ’n rede waarom jongmense emigreer. Van hulle word gelok deur werkaanbiedings en groot salarisse wat nie hier vir hulle beskore is nie. Aan die ander kant sien jongmense nie daarvoor kans dat hulle uitgebuit word en astronomiese hoë belasting moet betaal vir miljoene mense wat nie werk nie.

Voordat Suid-Afrika nie radikaal omgedraai word en norme en waardes weer gevestig word en kwessies soos onderwys, gesondheidsorg, die ekonomie, werkskepping en openbare dienslewering reggeruk word nie, sal die breinerosie van ook jong, witmense voortduur. Dit is hartseer dat soveel gesinne as’t ware uitmekaar spat en geruk word, maar uiteindelik neem mense die besluite wat vir hulle die beste in hul omstandighede is.

Ramaphosa moet eerder besin oor wat gedoen kan word sodat jongmense kan glo dat daar vir hulle en hul kinders ’n toekoms is, dat hul lewensgehalte sal verbeter en dat hulle geleenthede sal kry om professioneel te ontwikkel en tot die opbou van die land by te dra.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou