Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Suid-Tiroler deel lesse oor selfstandigheid

August 25, 2018 deur Jhua-nine Wyrley-Birch

Thomas Sinha, ’n inwoner van die selfstandige Europese provinsie Suid-Tirool, het dié gemeenskap se stryd vir selfstandigheid by die derde AfriForum takkongres gedeel.

Suid-Tirool is ʼn selfstandige provinsie in die noorde van Italië en grens aan die noorde van Oostenryk en die noordwestelike deel van Switserland. Suid-Tirool was voor 1918 ‘n deel van Tirool in Oostenryk-Hongarye en is sedert die oorgawe van Oostenryk ‘n outonomiese streek van Italië.

Dié hoofsaaklik Duitse provinsie is deur Italië beset aan die einde van die eerste Wêreldoorlog in 1918 en in 1919 geannekseer as deel van die Koninkryk van Italië.

Met die groei van fascisme in Italië, het die nuwe regime begin met die “Italianisering” van Suid-Tirool, waartydens die Duitse taal verban is uit openbare dienste en as onderrigtaal. Hulle het egter geheime skole bekend as “Katakombenschulen” begin om kinders steeds Duits te leer. Duitse koerante is ook gesensor en die nuwe regime was ook ten gunste van die immigrasie van Italianers vanaf ander provinsies.

Suid-Tirool se na-oorlogse uitdagings is in 1971 opgelos, na afloop van ondernemings op internasionale vlak, toe ʼn nuwe Oostenryks-Italiaanse ooreenkoms geteken is. Die provinsie se nuwe outonomiese status het gevolglik gelei tot ʼn redelike vlak van selfregering.

Die provinsie se amptelike tale is ook verander na Duits, Ladinge en Italiaans.

Hy het tydens sy toespraak gepraat oor die provinsie en Afrikaners se ooreenstemmende uitdagings, veral met betrekking tot onderrig, veiligheid en gesondheid.

Suid-Tirool het beide Duitse en Italiaanse skole en sowat 70% van Suid-Tiroolse kinders ontvang onderrig in Duits, wat deur die Suid-Tiroolse regering befonds word. Daarbenewens word baie leerlinge by Duitse skole ingeskryf al is dit nie hul moedertaal nie en meng die Italiaanse regering gedurig by die Suid-Tiroolse skoolstelsel in deur ’n parallelmedium skoolstelsel te probeer vestig.

Soos AfriForum het Suid-Tirool ook sy eie veiligheidstrukture wat uit vrywilligers bestaan. Sowat 18 300 vrywilligers van 306 strukture werk as brandweerbeamptes in Suid-Tirool en doen weekliks 510 000 ure se onbetaalde werk. Dié diens word ook deur die Suid-Tiroolse regering en fondsinsamelings befonds en opleiding vind by een sentrale sentrum plaas. Die Italiaanse regering meng ook dikwels by dié strukture in.

Verder het die provinsie ook ’n welsynsorganisasie soortgelyk aan die Italiaanse Rooikruis, naamlik die Wit Kruis. Hulle het tans 3000 vrywilligers, 300 werknemers en 50 000 lede. Die Italiaanse paramediesevereniging probeer egter om vrywillige paramedici van die Wit Kruis te verban.

Volgens Sinha moet gemeenskappe self dienste lewer en befonds om hulself besluitnemingsmag te gee. “Om self verantwoordelikheid te kan neem vir jou gemeenskap is nie ’n gegewe nie. Mens moet egter sterk daarop aandring.”

Hy sê voorts dat dit van kritieke belang is dat selfstandige gemeenskappe ondersteuning van buite kry, nie net polities nie, maar ook finansieel.

“Suid-Tirool het 526 000 burgers, waarvan 360 000 Duits is. AfriForum se ledebasis is dus amper so groot soos ons hele bevolking. Die les hieruit is net omdat jou stem klein is, beteken dit nie dat jy nie ook kragtig kan wees nie.”

 

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou