Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Tientalle hoofde leer oor leierskap by Skole Ondersteuningsentrum-kongres

June 11, 2019 deur Alet Rademeyer

Skoolhoofde en onderwysers kan baie maklik in ’n groef verval en só op hul eie en hul skool se oorlewing ingestel wees dat hulle nie meer weet hoe om op die uitdagings van môre en die vierde industriële revolusie te reageer nie.

Dit is juis om dié rede dat die Solidariteit Skole Ondersteuningsentrum (SOS) weer vanjaar ’n leierskapkongres vir ’n paar honderd hoofde en onderwysers in Centurion aanbied.

Die SOS het ’n groot verskeidenheid kundiges gekry om die kongresgangers oor uiteenlopende onderwerpe toe te spreek. Van die sprekers is Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Hugo Vermeulen en dr. Danie Brink van die SOS, Kallie Kriel van AfriForum, dr. Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting en onderwysers en hoofde wat kenners op hul onderskeie gebied is.

Daan Potgieter van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) het oor die belangrike verhouding tussen skoolhoofde en beheerliggame gepraat.

Hy het gesê ’n kwessie soos die delegasie van bevoegdheid van beheerliggame na skoolhoofde is van wesenlike belang om te verseker dat ’n skool optimaal kan funksioneer. Sonder delegasiebevoegdhede rondom toelating, dissipline, finansies, personeel, verkryging- en tenderprosesse en bestuursfunksies is ’n hoof se hande afgekap en kan hy of sy baie maklik ook die teiken van die onderwysdepartement word. “’n Hoof moet bemagtig en in staat gestel word om te doen wat hy moet doen naamlik om die skool te bestuur. ’n Hoof wat die helfte van die tyd ook voor ’n klas moet staan, is gedoem. ’n Hoof het baie meer op sy vurk en moet as’t ware uitvoering aan die strategie van die beheerliggaam gee.”

Volgens Potgieter moet delegasiebevoegdhede geboekstaaf wees ten einde die hoof en die beheerliggaam te beskerm.

Hy het gesê hoofde moet reëls vir hul skole opstel as hulle nog nie oorwonne is nie. Hoofde moet ook kennis van die wet en hul eie regte hê. Voorts moet hulle tyd maak om met die regte mense te netwerk en op behoorlike kommunikasie ingestel wees. “Kom weg van jou eiland af en kom in aanraking met ander hoof op naburige dorpe of plekke sodat julle mekaar kan ondersteun en van mekaar kan leer.”

Paul Smit, ’n lewensvaardighede-afrigter, het gepraat oor hoe alternatiewe denke hoop en nuwe moontlikhede kan skep. Hy het oor die konsep van Vuca (volatility, uncertainty, complexity an ambiguity) in die wêreld, ondernemings én skole gepraat en gesê hoofde en onderwysers het ’n plig en verantwoordelikheid om te moet dink aan kwessies en oplossings wat nog nie bestaan nie en waaraan baie ander mense nog nie gedink het nie. Dit is hoe die leiers van môre vir ’n vinnig veranderende wêreld voorberei moet word.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het roepingsgedrewe leierskap in skole beklemtoon en gesê baie skole is eilande van uitnemendheid nie noodwendig oor hulle geld of hulpbronne het nie. “Dit gaan eerder oor die ingesteldheid wat mense het om ’n verskil te maak, spore na te laat en werklik hul roeping uit te leef. Mense met ’n roepingsingesteldheid het ’n geheime instrument wat hulle elke dag dryf en wat hulle uiteindelik in staat stel om waar hulle ook al is, soos in ’n skool, ’n daadwerklike verskil te maak.”

Kriel meen hoofde en onderwysers moet help om ’n roepingsbesef by jongmense in te skerp ten einde ook hoop by hulle vir die toekoms te skep.

Die SOS het ook ’n verslag vrygestel wat fokus op hoe skoolhoofde hul tyd bestuur.

Daar is bevind skoolhoofde van Afrikaanse skole bestee die meeste van hul tyd aan administrasie, buitemuurse aktiwiteite en dissiplinering van leerlinge. Dit wil egter voorkom of hoofde met meer as 15 jaar ervaring hul tyd meer doeltreffend benut as van hul minder ervare kollegas. Vraelyste is aan skole gestuur wat deur 65 hoofde van Afrikaanse en parallelmediumskole regoor die land voltooi is.

“Vanuit die inligting blyk dit dat skoolhoofde in Afrikaanse skole lang ure werk en baie verantwoordelikhede het. Daar word egter gereeld van skoolhoofde verwag om betrokke te wees by take wat nie tot voordeel van die skool is nie,” sê dr. Danie Brink, besturende direkteur van die SOS.

Hoofde werk gemiddeld amper 10 ure ’n dag. Die grootste groep skoolhoofde (42%) werk tussen 9 en 10 ure per dag en meer as ’n derde van hoofde (37%) werk meer as 10 ure elke weeksdag. Slegs 4% van skoolhoofde werk 7 tot 8 ure per dag.

Brink sê die hoeveelheid tyd wat skoolhoofde aan roetine kommunikasie en administrasie afstaan, is kommerwekkend. Net minder as die helfte (48%) van skoolhoofde het aangedui dat administratiewe take en e-posse die meeste van hul tyd in beslag neem. Volgens hoofde se sekretaresses spandeer tussen 80% en 90% van hoofde daagliks tyd aan e-posse en ander administratiewe take. Slegs 2% spandeer byna nooit tyd hieraan nie. Ervare hoofde spandeer wel tot 20% minder tyd aan administratiewe take, as onervare skoolhoofde.

Die skoolhoof speel ook ’n kardinale rol in die handhawing van dissipline in die skool. In 53% van gevalle is die hoof daagliks betrokke by die dissiplinering van leerders. ’n Verdere 23% is weekliks betrokke, terwyl 2% op ’n twee-weeklikse basis betrokke is. Minder as ’n kwart (22%) van skoolhoofde is baie selde betrokke by dissipline.

“Hoewel daar toenemend druk op skoolhoofde is om betrokke te wees by buitemuurse aktiwiteite is dit nie noodwendig ten bate van die skool as die hoof alle aktiwiteite ondersteun nie,” sê Brink.

Brink meen daar is baie waardevolle lesse wat minder ervare skoolhoofde by diegene met meer ervaring kan leer en die SOS moedig hulle ook aan om dit te doen.

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou