Alle Kanale
Alle Kanale
Nuusflitse

Wat is die ANC se agenda met onteieningsplan?

June 14, 2018 deur Alet Rademeyer

Terwyl debatte, diskoerse en veldtogte sowel plaaslik as internasionaal momentum opbou teen die ANC/EFF se beleid oor onteiening sonder vergoeding, het talle strategiese denkers en instansies in verskillende meningstukke die afgelope weke verduidelik waarmee die regerende party eintlik besig en wat hy met dié roekelose besluit wil bereik.

Prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria (UP), verduidelik in ’n insiggewende artikel op Politicsweb dat die ANC en EFF se “konstitusionalisering van konfiskering”, wat ontoepaslik as onteiening sonder vergoeding voorgehou word, niks anders as ’n aanslag op ’n vrye samelewing en grondwetlikheid is nie.

Volgens hom is die kwessie van eiendom nie net ’n privaat of individuele regte-vraagstuk nie. Dit is die bolwerk vir die skeiding, meer korrek die verdeling, van mag. Die skeiding, oftewel verdeling van mag, tesame met die remme en teenwigte daarvoor, is onontbeerlike voorvereistes vir grondwetlikheid en die waarborg vir alle regte en vryhede.

Ingevolge ’n moderne Grondwet veronderstel die skeiding van magte tussen die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag ’n voldoende beperking van staatsmag, veral waar sogenaamde onafhanklike staatsinstellings soos die openbare beskermer ter sprake is. Meer spesifiek moet die howe ’n wakende oog en balans wees teen sowel ’n potensieel wetgewende en uitvoerende gesag as die heersende party wat regte vertrap.

Belangrik soos die howe en ander onafhanklike grondwetlike instellings mag wees, bly dit maar enkele meganismes wat moet waak teen skendings van regte, spesifiek deur die regerende party. Howe is egter swak geposisioneer en nie in staat om as teenvoeter te dien teen sowel die uitvoerende en wetgewende gesag as die regerende party nie.

Dit is ook van toepassing op Suid-Afrika waar die Konstitusionele Hof, in stede daarvan om ’n bewaker teen magsmisbruik te wees, net soos die ANC daartoe verbind is om die ideologiese doelwitte van die heersende elite in die ANC-leierskap te bereik, naamlik dié van transformasie, ook beter bekend as die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR).

Malan beklemtoon egter dat individuele regte geen waarborg is dat ’n regering hom van die skending van regte sal weerhou nie. Slegs gemeenskappe wat doeltreffend in niestaatsinstellings en outonome burgerlike instellings georganiseer is, kan dit vermag. Ware waarborge vir grondwetlikheid en meganismes vir remme en teenwigte is nie net in onpartydige howe en individuele regte gesetel nie, maar moet binne die breër burgerlike samelewing ontwikkel word.

Malan wys daarop dat mense nie blind moet wees vir die bedoelinge van sosialistiese bewegings en regerings soos die ANC nie. Hulle is geprogrammeer om ekonomiese bates te konfiskeer om mense hul onafhanklikheid te ontneem. Regerings soos die ANC is fundamenteel teen grondwetlikheid gekant omdat hulle nie enige opposisie verdra nie. Daarom is hulle ook antagonisties teenoor besitters van eiendom en burgerlike instellings wat oor hulpbronne beskik.

Malan meen dis nie vir die ANC nodig om die Grondwet te wysig soos wat voorgegee word deur die aanwys van ’n parlementêre Grondwet-hersieningskomitee wat ondersoek daarna moet instel en teen 30 Augustus vanjaar terugvoer moet gee nie. Die Grondwet, soos dit toegepas word, bedreig reeds eiendomsreg, grondwetlikheid en vryheid.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen mense se heftige ontsteltenis oor onteiening sonder vergoeding spruit uit ’n bittere teleurstelling met die uitkomste van die 1994-ooreenkoms. Dít is gesien as ’n skikking vir ’n demokratiese regstaat.

Wat egter in werklikheid gebeur het, is dat die ANC nie sy revolusie vir demokrasie in 1994 laat vaar het soos belowe is nie, maar dat dit bloot met staatsmag voortgesit is. “Die kern van die regerende magselite se vertolking van die Grondwet is dat dit ‘radikale transformasie’ van die totale samelewing gebied om ongelykhede ‘gelyk’ te maak. Dit behels die tweede radikale fase van die ANC se NDR met staatsmag.”

Buys wys daarop dat staatskaping ANC-beleid is en dat die kaping van onafhanklike instellings nog altyd deel van die NDR-planne was. “Dis tyd dat almal besef dat almal se vryheid in gedrang is. Daar is nou net een oplossing en dit behels dat alle voorstanders van vryheid moet saamstaan om mekaar se vryheid te verdedig.”

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) waarsku ook reeds etlike jare oor waarheen die ANC binne die NDR-raamwerk met grondonteiening en eiendomsreg op pad is.

Terence Corrigan, ’n navorser by die SAIRV, meen die voorgestelde onteiening sonder vergoeding is beslis nie net op landbougrond van toepassing nie. “In die afgelope dekade het die regering by verskeie geleenthede probeer om sy mag te gebruik om inbreuk te maak op die eiendomsreg van individue en ondernemings. Geen van hierdie pogings was tot grond beperk nie. Regeringsbeleid in die algemeen was om sy mag uit te brei om sy transformasie-agenda te dryf op terreine van intellektuele eiendom tot mynbou. Die jongste besluit pas perfek binne die ANC se oorhoofse trajek.”

Volgens Corrigan sal onteiening sonder vergoeding se skade baie verder as die landbousektor strek. “Elke gewone landsburger moet kennis van die bedreiging neem en hul kommer uitspreek.”

Die F.W. de Klerk-stigting meen onteiening sonder vergoeding is ongrondwetlik en sal die ekonomiese struktuur van die land vernietig, en daardeur sal die diskoers oor voedselveiligheid, lewensbestaan en groei van nul en gener waarde wees.

Dit wys voorts daarop dat terwyl die boodskap oor onteiening sonder vergoeding verleidelik vir ontnugterde kiesers is, is die risiko van die nasionalisering/staatsbewaring van alle grond vir alle Suid-Afrikaners enorm. “Dit sal neerkom op algemene batebeslaglegging en die implikasies vir die middelklas is duidelik. Die vraag is watter skade in die lang termyn aan die demokratiese bestel berokken sal word as anargie toegelaat word. Vandag kan dit eiendomsregte wees, en môre kan dit oorspoel na ander sektore en ander grondwetlike beskermings,” meen Dave Steward, voorsitter van die raad van trustees van die stigting.

Dit is dan ook in die lig van die ANC se voorgenome beleid oor onteiening sonder vergoeding dat AfriForum gister ’n memorandum en ’n petisie hierteen by die parlement ingedien het. Die petisie is deur meer as 250 000 bekommerde lede van die publiek onderteken.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die regering se voorneme om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak op ’n verdraaide beeld van die verlede, ’n bedrieglike grondoudit en ’n verwronge begrip van basiese ekonomiese beginsels geskoei is.

Die memorandum bevat ’n opsomming van AfriForum se grootste besware teen die voorgenome proses om artikel 25 van die Grondwet te wysig om die staat te bemagtig om eiendom sonder vergoeding te onteien. ’n Verslag, waarin die werklikhede oor grondbesit in Suid-Afrika uiteengesit word, is saam met die memorandum ingedien. Die doel hiervan is om aan die parlement te wys dat die besluit wat vroeër vanjaar met betrekking tot onteiening sonder vergoeding in die parlement geneem is, op ’n bedrieglike staatsoudit gebaseer is.

Roets verduidelik hoewel AfriForum beswaar teen die proses aangeteken het om die Grondwet te wysig en sy regte voorbehou om die proses in die hof te beveg, die organisasie glo dat dit belangrik is om die feite met betrekking tot onteiening sonder vergoeding – en die potensiële destruktiewe gevolge daarvan – ter tafel te lê.

AfriForum het ook beswaar gemaak teen van die prosedures wat gevolg word in aanloop tot die openbare verhore rondom onteiening wat op 26 Junie begin. Talle van die plekke en die tyd  waar hierdie openbare verhore gaan plaasvind, is steeds nie aan die publiek bekend nie. Van die plekke wat wel gekies is, is afgeleë en in gebiede waar die ANC die meerderheid steun het. Daar is byvoorbeeld vergaderings in Botshabelo, maar nie in Bloemfontein nie. Daarbenewens is groot metropolitaanse gebied ook uitgesluit.

AfriForum doen ’n beroep op sy lede om wel die vergaderings by te woon sodat die regering op plaaslike vlak kennis kan neem van besware teen die voorgestelde wetwysigings.

 

PO Box 17216, Lyttelton, 0140 © 2013–2014 AfriForum. Alle Regte Voorbehou